Die Amerikaanse skrywer, Elbert Hubbard het gesê: "Die wêreld beweeg so vinnig dat `n man wat sê: 'Dit kan nie gedoen word nie', dikwels in die rede geval word deur iemand wat dit reeds gedoen het".
Mense wat in die landbou werk kan soms traag of skepties staan teenoor nuwe tegnologie. Dit is deels verstaanbaar, sienende dat ons bedryf met die seisoene werk en `n mens maklik kan dink een jaar is maar soos die ander. Verder is stowwerige lande of winter reënvlae nie noodwendig fyn elektronika se beste vriend nie.
Maar u weet dat ons in `n wêreld leef waar als altyd besig is om te verander, selfs ons klimaat is besig om te verander, en ons moet aanpas of ophou boer. En Suid Afrikaanse landbouers het deur die geskiedenis heen gewys dat die gesegte: "'n Boer maak `n plan" nie om dowe neute bestaan nie.
Ons as amptenare kan dus nooit gerus raak wanneer ons met sulke vindingryke kliente werk nie! Suid Afrikaanse boere is bekend daarvoor dat hulle nuwe uitdagings te bowe kom met some oorspronklike oplossings.
Die wêreld waarin ons leef ondervind ook tans moeilike ekonomiese tye, en soos ons Departementshoof, Joyene Isaacs, al etlike kere vanjaar gesê het: "Mense, daar is nie geld nie". Dit beïnvloed verseker ons vermoë om ons kliënte te diens. Ons begoting van R400 miljoen gaan moontlik met tussen 5% en 10% gesny word, en dit beteken meer werk moet met minder geld gedoen word. En om nog olie op die vuur te gooi: Met die oorname van die nuwe regering in die Wes-Kaap is daar `n besliste verwagting geskep onder ons landbouers van beter en vinniger diens.
Ek sien die bekendstelling van die "slim Pen" of Smart Pen tegnologie as `n voorbeeld waar mense aanpas by veranderende omstandighede. Maar ek sien dit ook as 'n voorbeeld van `n Departement wat stewe daarna om beter diens te lewer selfs in moeilike tye.
Die ondersteuning van ons nuwe boere bly een van die belangrikste funksies van die Departement. Maar om ons nuwe boere te ondersteun het unike uitdagings. Soos die feit dat sommige van hulle nie oor selfs basiese kommunikasie tegnologie beskik nie. Dit sou in die verlede beteken dat `n beampte dalk eers met sy volgende besoek die antwoord op `n nou dringende probleem kon verskaf. So word tyd gemors en produksie gaan verlore.
Ons gaan oor die volgende vyf jaar fokus om ons voorligtingsbeamptes beter op te lei sodat hulle hul werk meer effektief kan verrig. Maar met die regte toerusting sal die effek soveel groter wees. Ek sien die Smart Pen tegnologie as juis dit.
Ek sluit af: Alle sterkte met die implementering van die Smart Pen. Ek dink dit is 'n fantastiese konsep en sien uit daarna om te sien hoe die gebruik daarvan `n werklike verskil vir al die landbouers in die Wes-Kaap maak.
Kontak:
Tel: 021 483 4700
